Monday 5 May 2014

MAAK JOU HART OOP VIR JESUS

Vanoggend terwyl ek my hare droogblaas kom daar skielik iets van my kleintyd in my gedagtes op.  My Sondagskool juffrou het eenkeer met ons gepraat oor Jesus wat by jou hartjie se deur staan en klop en dat ons ons hartjies moet oopmaak vir Hom.

Openbaring 3:20
Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  
As iemand my stem hoor en die deur oopmaak
sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom
maaltyd hou en hy met My.

Haar les het 'n geweldige impak op my gemaak en soms as ek en my sussie gespeel het het ek my verbeel ek hoor letterlik hoe iemand aan my hartjie se deurtjie klop.  Dan het ek altyd gesê: Liewe Jesus as dit u is kom maar in, maar as dit die duiwel is bly buite.  Dit het meer as eenkeer gebeur.  Tot vandag was ek nog nooit een dag spyt dat ek Jesus in my hartjie toegelaat het.

Ja, daar was 'n tyd in my lewe wat ek nie op die plek was waar God my wou hê nie, maar die Woord sê dat niemand ons uit God se hand kan ruk nie.

As jy Hom nog nooit in jou lewe toegelaat het en Hom die Stuurman van jou lewe gemaak het nie. Nooi ek jou vandag uit om jou saak met God reg te maak.  Johannes 1:12 leer ons dat almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God genoem te word, aan hulle wat in Sy naam glo.

Nooi Hom in vandag.  HY WIL SAAM MET JOU MAALTYD HOU.  
Jou lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.

Bid hierdie gebed:
Jesus, vandag neem ek U aan as my persoonlike Saligmaker.
Wees Heer en Meester oor my lewe en vul my hart met U vrede.
Ek bely my skuld en sonde voor U en ek weet dat U my nou witter was as sneeu deur die kosbare bloed van Jesus.
Sy bloed het gevloei sodat ek die ewige lewe mag beerwe.  Dankie dat my naam nou ook in die boek van die lewe geskryf staan.
In Jesus Naam
Amen

No comments:

Post a Comment