Monday 9 June 2014

YSTER SLYP YSTER

Ongeveer 16 jaar gelede was ek oppad kleuterskool toe met
ons oudste dogtertjie Lelani.  Dit was haar eerste daggie 
en daardie spesifieke oggend het ek besef God gaan my
moet verander ter wille van my kinders.  Ek was 'n baie
skaam tiener en selfs as volwasse mens kon ek myself
nie handhaaf in 'n geselskap nie.  Ek het
'n lae selfbeeld gehad en het nie veel van myself
gedink nie.  As iemand net skeef vir my gekyk het het
ek vir twee weke geloop en tob wat ek moontlik
verkeerd gedoen of gesê het.  

Daardie oggend het ek opgekyk en gesê:  Here, U is die Pottebakker,
ek is die klei, vorm my en maak my asseblief.  

Ek het my klein ou dogtertjie by die juffrou gelos en met al die
selfvertroue wat ek op daardie oomblik kon bemeester het
ek daar weggestap.  Terwyl ek wegstap het dit gevoel die
juffrouens bespreek tot die onderklere wat ek aangehad het.

Die Pottebakker sal jou nooit teleurstel nie.   God hoor elke versugting,
Hy ken elke hartsbegeerte en daardie oggend was my
begeerte om gevorm te word omdat ek geweet het my
klein ou dogtertjies kyk op na hulle mamma en
hulle betree nou die wêreld waar mamma nie altyd daar is
om te beskerm nie.

Spreuke 27 : 17 leer ons dat yster slyp yster, en
so slyp die een mens die persoon van die ander.
God het baie mense in my lewe gebruik om my te help vorm.
Dis nie altyd lekker en maklik as die Pottebakker begin
skaaf en skuur nie, en somtyds moet jy iets hoor, wat nie so
goed op die oor val nie, maar tog nodig is om te hoor.

Is die vormingsproses al verby?  Nee, beslis nie.
Ons sal altyd iets leer as deel van ons groeiproses.
Een ding weet ek verseker vandag:  Ek is totaal afhanklik van God.
Sy Gees lei en leer my,  Sy Gees waarsku my.

Soos ek gegroei het kon ek sien hoe my dogtertjies ontwikkel
in pragtige jongmeisies met selfvertroue en 'n gesonde selfbeeld.  
Ja, God verander hulle nog elke dag na Sy beeld, maar
ek is nog nie een dag spyt omdat ek die Pottebakker gevra
het om my te verander nie.

Om op 'n ligter noot af te sluit:

As ek nou nuwe vriendinne maak, kan hulle nie
glo ek was te skaam om in 'n geselskap te praat nie.

DIT is wat die Pottebakker doen.  Hy vorm jou en omvou jou
met Sy groot en wonderlike genade.

Laat toe dat die Pottebakker jou vorm en as Hy mense
gebruik:  word soms eers stil en luister.  Dit wat jy nou ervaar as
negatiewe kritiek, is miskien net wat jy nodig het om te hoor.

God het jou oneindig lief.  Jy is in albei Sy handpalms ingegraveer.

No comments:

Post a Comment