Monday 9 June 2014

AAN MY TOEVERTROU - my 3 pragtige dogters




Vader
Hierdie drie dogters het U aan my toevertrou en ek kan U
nie genoeg bedank dat ek die bevoorregte mamma vir hulle is.
Here ek weet U gedagtes vir hulle is goed en mooi.
U Woord sĂȘ dis meer as die sand.  U het hulle by die naam
geken nog voordat hulle in my moederskoot gevorm is.
Dankie dat hulle in U handpalms ingegraveer is en ek 
weet dat niemand hulle daaruit kan ruk nie .

Ek bid vanaand U seen oor elke aspek van hulle lewens.
U is die Lewende God en daar is niks by U onmoontlik nie.
U weet van elke teleurstelling wat hulle al gehad het, en omdat U
alles ten goede laat meewerk vir die wat U liefhet, weet ek
dat U hulle roukleed losgemaak het en hulle met
vreugde omgord het.   Dankie Here, dat hierdie
drie girlies van my weet dat hulle hulp van die Here wat
hemel en aarde gemaak het, af kom.

Neem hulle onder U beskerming en weerhou onheil van hulle.
Ek pleit die bloed van Jesus oor hulle en weet dat geen
wapen wat die vyand teen hulle smee sal slaag nie.
Dankie vir hulle talente en vermoens, dankie dat hulle
'n hoopvolle toekoms in U het. 
Die deure wat vir hulle in die hemel oop is, sal oopgaan
op hierdie aarde, in die Wonderlike Naam van Jesus.
Here, ek bid dat die woorde van hulle mond en die
oordenking van hulle harte, welbehaaglik voor
U aangesig sal wees. 

Waar dit kom by die keuse van 'n lewensmaat vra ek dat
hulle U ook in daardie baie belangrike besluit sal ken.
Ek vra dat U my drie skoonseuns sal bewaar.  Berei
hulle voor vir my dogters en dankie dat hulle die hoof
van hulle gesin sal wees soos U van hulle verwag.
Ek ken hulle nog nie Vader, maar omdat hulle my seuns gaan
word, is ek al klaar lief vir hulle.  
Seen ook elke aspek van hulle lewens en gee hulle 
wysheid en insig in elke situasie.

Ek bid dat my kinders se vrede groot sal wees, dat hul
nooit beskaamd sal staan nie en dat hulle
voorspoed, oorvloed en lewe sal ervaar Vader. Ek verklaar
hulle gesond, geseend, bemind en geliefd.  Dankie dat hulle
guns by U  vind en dat U goedheid en guns volgens 
Psalm 23 hulle altyd sal volg Here.
U is 'n Waarmaker van U Woord en omdat U nie
'n mens is wat sal lieg nie, staan ek voor U vir hulle en 
claim elke belofte wat U vir hulle het, in die Naam v Jesus
Hulle sal geseend wees met goeie gesondheid volgens U Woord.

Ek het U lief Here met alles wat binne in my is.
Dankie dat U die kenner van die hart en die toetser van die niere is.

Ek vra alles in die Naam van koning Jesus

AMEN 




No comments:

Post a Comment