Friday 4 July 2014

DIE WAARDE VAN 'N OUERHUIS

Vanaand kuier ons by skoonpa op Oudtshoorn.  
Die waarde van 'n ouerhuis tref my opnuut weer
vanaand en ek sukkel om die knop in my keel af te sluk
Oupa wat staaltjies van die verlede vertel, die vleis wat
sommer van die rooster afgeëet word en al die
skindernuus van die ou weduwee tannies wat
kwansuis nie hul hande van oupa kan afhou nie.

Die lekkerste deel van die aand was toe oupa
vir manlief vertel hy moet sy vrou mooi
oppas want sy is nog mooi en as sy besluit om stout
te word, sal sy nog aandag kan trek.  Watter dogter
sal nie daarvan hou as haar pa vir haar vertel 
sy is mooi of hy is trots op haar.?

Wat my egter die meeste opgeval het van die aand
was toe oupa vertel van sy ouers en hoe hard hy
vir hulle gewerk het.  Die respek wat hy vir sy
kwaai pa gehad het.  Terwyl hy staaltjies vertel van
sy kinder en jongdae, sê hy hy dink die rede hoekom
hy al amper 90 is is omdat hy sy ouers ge-eer het,
en die Bybel sê jy sal lank leef.

Hoe waar is dit nie?
Die Woord sê vir ons dat dit die eerste gebod met
'n belofte is.

Efesiers 6:1-3
Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees
in die Here, want dit is reg.
Eer jou vader en jou moeder dit is die eerste
gebod met 'n belofte - 
sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag
lewe op die aarde.

As jy nie meer 'n ouerhuis het  nie leer die Woord
ons  in Psalm 68:7 
dat God die eensames in 'n huisgesin laat woon.
God het al baie tannies op my lewenspad gesit
om die leemte na 'n ma te vul, wat die grootste gemis
in my lewe is.  Op die oomblik is tannie Rika my aaneem-ma
en ek het die grootste respek en liefde vir haar.

Dankie Vader dat U elke eensame hart raaksien.
Dankie dat U volgens Psalm 68:6 'n Vader van die wese
en 'n regter van die weduwees is.
In Jesus Naam
AMEN

No comments:

Post a Comment