Sunday 25 September 2016

'n Mislukking - NEVER AS TE NOOIT



Woensdagoggend omstreeks 3h43 het my man my met 'n 
whatsappboodskap wakker gemaak en gevra of ek ook wakker lê?

So twee weke gelede het 'n baie bekende sakeman my man
genader en vir hom gesê hy het vir hom 'n "business
opportunity".  Nadat my man werk vir die persoon gedoen het
het hulle vriende geword en in een van hulle geselsies het
hy sy jarelange droom met hom gedeel. Hyt op 'n plaas
groot geword en hy was 'n boerseun in sy hart, en wou
nog altyd sy eie plaas besit.  Die natuur en die grond
was nog altyd vir hom belangrik want dis waar Hy God se
Almag aanskou.  Toe hy klein was het hy altyd donkies 
grootgemaak, want "dit was die dier waarop Liewe Jesus gery het".

Die afgelope paar weke was 'n mallemeule van opgewondenheid,  plaas soek,  drome
droom,  familie kontak met die goeie nuus,  die kinders se blydskap,  onsekerheid.
weer hoop, baie vrae vra vir God ens ens.  Die droom was egter van korte duur, 
 toe die voorwaardes van die transaksie bespreek word.   Dit blyk toe dat die
 wonderlike vooruitsig van'n eie plaas besit, net gebou was op mense se 
eie selfsugtige begeertes.  Die voorwaardes bepaal onder andere dat ons kinders
 glad nie op die plaas mag kom nie, en indien familie kom kuier moet ons
 hulle buite die plaas ontvang.  Daar mag geen honde wees ,  en ons mag glad
 nie in die hoofhuis woon nie.  Ek was so opgewonde oor die huis 
want dit het die stoep gehad waaroor ek nog altyd gedroom het.

BARRY WAS NOU IN DIE POSISIE WAAR 'N PLAAS Lê WAT KONTANT 
BETAAL IS, EN HY MOET KIES TUSSEN SY JARELANGE DROOM
EN SY VROU EN KINDERS WAT VIR HOM SO KOSBAAR IS.

Sonder om een maal daaroor te dink het hy reguit vir die sogenaamde vriend 
gesê wat hy met sy aanbod kan doen, en dat sy vrou en kinders vir hom die
wêreld beteken.  Daar sou geen manier wees waarop hy sy kinders sal prysgee
nie.  

En dis hoekom hy my in die week wakker gemaak het want hy kon nie slaap
omdat die vader van alle leuens vir hom probeer vertel het hy is nikswerd.

Ons gesprek het daardie oggend gegaan oor sy bekommernis,   die feit dat hy
voel hy sak diep in 'n swart gat in,  hy kom nie aan die gang nie, hy voel hy
bid en kry nie antwoorde nie.
My man was moeg en toe hy vir my sê hy kan nie meer probeer nie, want
hy stel sy kinders teleur, hys 'n  mislukking, het ek die volgende gedoen om aan
hierdie wonderlike man en pa te wys wie en wat hy is.  En dit word nie bepaal
deur sy besittings of sy geld nie, want dit wat hy het kan nie met al die geld
in die wêreld gekoop word nie.  







Ek het vir hom fotos gestuur van sy girls en die liefde wat hy vir 
hulle het en hulle vir hom.  Die liefde is onvoorwaardelik en sal altyd wees.
Ons onthou die vetkoekies op 'n Saterdagoggend, die heerlike ritte
in die natuur,  die stap langs die see,  die dans op die maat van boeremusiek
in die sitkamer,  die mcds roomysie as ek kwansuis sooibrand het.
Jou grappies,  as jy dans met die hond, en die girls se skaterlag.
Daars soveel mooi oomblikke saam met sy gesin en hy was en is altyd 
daar vir ons,  Dit was nog nooit enige inspanning vir hom om ons eerste
te stel nie, en as een van die meisiekinders op sy skoot kom sit en hulle
arms om sy nek sit, gaan sy arms automaties oop.  Hyt altyd 'n menslike serp
om sy nek, in die vorm van 'n girl, hetsy sy vrou of een van sy meisiekinders.
Hy sal veg vir ons,  baklei vir ons en in die 25 jaar wat ons al getroud is,
was my vriendskap vir hom die belangrikste.  So, my liewe man, en die pa
van my kinders.  Jy sal altyd ons mansmens bly, ongeag.   En een ding moet jy
nooit ooit vergeet nie. GOD IS NIE 'N MENS DAT HY SOU LIEG NIE.
SY BELOFTES VIR JOU STAAN VAS.  HY GAAN JOU ROUKLEED
LOS MAAK EN JOU MET VREUGDE OMGORD.

 Ons seen die persoon wat jou seergemaak het en bid dat God met hulle sal wees.

Maar die belangrikste van alles my man

Jy is NIE 'n mislukking nie

NEVER AS TE NOOIT.....

______________________________________________________

No comments:

Post a Comment