Tuesday 13 October 2015

JOU WAARHEID IS DALK JOU LEUEN


'n Baie wyse persoon het onlangs vir my gesê dat hy vir jare
verblind was deur sy eie waarheid (leuen).   Ék was baie negatief
en het selfs gedink ek glo, maar dat sekere goed net nie vir ons gesin
beskore is nie.  En dit is beslis 'n leuen van die vyand.  
Sonder dat ons dit agterkom verblind satan ons so met ons
realiteite dat hy ons geloof werklik omswaai in ongeloof, en dis presies
waarmee ek kan identifiseer.  Ek het geglo dat ek glo, maar soos die
persoon aan my uitgewys het, is die waarheid eintlik dat ek die 
leuen glo, en dat satan se leuen my waarheid geword het.
Alles gaan oor geloof en nie oor ons realiteit of omstandighede nie.

Ek het so skaam geword en het besef dit is net so.  Ek bely vandag
my ongeloof as sonde voor God en ek weet ek is reeds vergewe.

Ons tong het die vermoe om lewe en dood te spreek, en na DIE
openbaring kies ek opnuut om lewe te spreek, maak nie saak
wat die realiteit van die lewe is nie.   Spreuke 18:21 sê so duidelik
dat ons die vrug van ons tong sal eet.  Met ander woorde ons sal die
gevolge dra van elke onverskillige en negatiewe woord wat 
ons mond verlaat. Net so is dit die waarheid wanneer 
ons kies om lewe en positiewe woorde te spreek.  

Ek bely God se goedheid en guns oor my gesin.  Ek weet sy gedagtes
is vir ons meer as die sand.  Hy IS 'n Waarmaker van Sy Woord. 
Hy is ons beskerming, voorsiening, verlossing en genesing. 

LAAT JOU GELOOF JOU WAARHEID WORD
MOENIE TOELAAT DAT JOU HUIDIGE WAARHEID
JOU GELOOF WORD NIE.


Mag jy met nuwe oe na jou realiteit kyk. - IN GELOOF








No comments:

Post a Comment