Friday 3 October 2014

'n Brief aan my moekie


Liewe moekie
Vandag presies 27 jaar gelede het ons die verskriklike nuus ontvang
van 'n motorongeluk en die slegte tyding wat my lewe vir altyd
verander het.  My moekie deur die dood weggeneem.  
Ek sal daardie dag nooit vergeet nie en onthou ook nog die laaste
oomblik saam met mamma, toe ek die vorige dag vetkoekies uit julle
padkos gegaps het en mamma op my afgekom het.  Ek was net 17 
jaar oud en die eerste ding wat ek gedoen het toe ek by die huis\
aangekom het was om vir Adele, my beste vriendin te bel.  Ek
onthou toe sy die foon antwoord, het ek net gesê, vriendin, my moekie
is dood, en binne minute was sy daar.  Ek en sy het in die strate 
ingevaar en ek wou vir almal vertel my ma is verewig weg.  Ek
het daardie dag so verlate en alleen gevoel al was sy by my.  Die
leemte wat ek daardie dag gevoel het het ek die res van my lewe
ervaar moekie.  Al het God baie goeie en gawe tannies op my pad
gesit deur die jare,  kon niemand mamma se plek in my hart inneem nie.
Mamma, al het dit my hoe lank gevat om dit te verwerk, is ek so
dankbaar vir elke oomblik wat ek in my Gr10 jaar by mamma
kon deurbring.  Ek voel nou nog elke traan wat in my nek drup, as
ek en mamma by die telefoontafeltjie sit en ek moekie probeer
troos.  Vandag is ek so dankbaar teenoor God vir daardie tyd.


Met alles wat ek in my lewe gedoen of ervaar het, het ek vir moekie
gemis.  Ek wens my man, Barry (mamma sal hom en die girls in
hemel ontmoet eendag) het die voorreg gehad om mamma te ken.
Ek weet mamma sou lief vir hom gewees het en hy sou mamma
beslis laat lag het.  Hy is altyd gereed vir 'n grappie en om 'n 
glimlag op iemand se gesig te sit.  Weet mamma hoe mis ek mamma
as dit partykeer voel alles werk nie uit in my huwelik of ek het net
raad by iemand nodig.  Ek wil baie dankie sê dat mamma my geleer
het om op God te vertrou, my Woord te lees en om op die Heilige Gees
staat te maak.  Dis alleenlik deur die leiding van die Heilige Gees en
God se Woord dat my huwelik deur al die storms kon staande bly.
Die meeste van alles wens ek my man kon mamma se liefde en
sagtheid ervaar.  As hy voor my in die hemel kom het ek vir hom
gesê, mamma sal vir hom met oop arms wag.  Ek dink hy moet
heel eerste by die kosmos velde gaan kyk.   Na pappa se dood het
ek baie gewonder of sy saak met God reg was en of hy mamma 
in die hemel sal sien.  Ek het een nag 'n gesig gehad, waar 
moekie by die kosmosse staan met 'n gesig vol afwagting, en agter
mamma se rug het pappa gestaan met 'n glimlag.  Ek glo
God het my die versekering gegee dat albei my ouers dit gemaak het.

En dan mamma.  My hart se punt.  My 3 pragtige dogtertjies wat
God aan my toevertrou het.  Mamma ek het voor Lelani 'n
miskraam gehad, en ek weet in  die hemel wag nog so pragtige klein
mensie vir my. Ek glo dit sal 'n skattige seunskindjie wees.  Ek wil
net vir mamma se dit was die moeilikste tyd van my lewe en ek het
mamma so gemis.  Die lekkerste sou gewees het as mamma daar
was met elke kleinding se geboorte.  Mamma, ek het die een ding 
gedoen wat God van my verwag, en dit is om my kinders in Sy vrese
groot te maak.  Hulle ken die Here en ek weet hulle sal beslis hul ouma
in die hemel sien.  Mamma jy sou so lief vir hulle gewees het, en dan
is daar nog 'n krulkop ook by.  Ousus, Lelani is erg oor haar sussies
en toe sy klein was het sy al haar sakgeld op hulle spandeer.  
Cindy is die krulkop en sy is weer die een wat baie vinnig reelings
kan tref.  Jess is die baba en sy wil net hê  almal moet vir haar
lief wees.  Hulle was die skattigste kleingoed mamma en ek wens
hulle kon die voorreg smaak om op mamma se skoot te sit terwyl
mamma vir hulle bid, 'n storie vertel, sing of sommer net lief
wees vir hulle.  Dit sou hulle so goed gedoen het,  moekie.


En nou is hulle groot.  Ek wens mamma kon hul nou sien.  Ek
wens mamma was hier om saam met my vir hulle te bid sodat
hulle die regte keuses kan maak vir 'n lewensmaat.  Hulle is so
kosbaar en ek begeer vir hulle net die mooiste wat die lewe bied.
Die lewe bied so baie uitdagings deesdae.  Dis nie meer so maklik
soos toe ons jongmense was nie.  Hulle is soveel meer onder druk.
Mamma ek was so oud soos Jess toe ek mamma verloor het.
Ek vertel vir my meisiekinders baie staaltjies oor mamma, maar
dit is nie genoeg nie, ek sou dit so graag anders wou gehad het.

Mamma ek is baie lief vir mamma.  Ek mis mamma en ek weet
die weersiens gaan so wonderlik wees in die hemel eendag.
Ek is dankbaar vir alles wat mamma vir my gedoen het, vir alles
wat mamma my geleer het.  Toe ek in Gr 10 was het mamma
eendag vir my 'n skrif in Spreuke gegee.  Ek het dit nie toe verstaan
nie, maar ek verstaan nou mamma.   Met alles wat ek in my lewe
deurgemaak het is dit alleenlik my geloof en my vertroue in die
Allerhoogste God wat my deurgedra het.   
Dankie daarvoor mamma, want dis wat ek by mamma geleer het.
Ek is ewig dankbaar.

Liefde vir altyd
Jou jongste dogter
Roelien

ps.  Ek het my krulhare aanvaar mamma.  
Ek is lief vir ieder en elke een op my kop


No comments:

Post a Comment