Om te verhuis, of te trek soos ek dit sommer noem, was nog
altyd vir my een groot deurmekaarspul. Elke
keer wat ons verhuis neem ek myself voor, alles gaan op
gladde wiele verloop. Maar, nou ja, nodeloos om te sê, toe ons
die afgelope naweek van die een woonbuurt na die ander
verhuis was niks beter of minder deurmekaar as ''n
vorige keer nie. Ons het al soveel keer verhuis dat my man
spot en sê ons moet net ons hande klap, dan sal die meubels
en die res van ons besittings self op die wa spring.
Was dit maar so maklik?
Ek het weke voor die tyd begin inpak en uitsorteer.
Die dag toe ons egter moet begin laai kom ek agter ek het
eintlik niks gedoen die afgelope weke nie. Of so lyk dit
toe altans.
So maklik kla ons oor ons besittings. Dis nooit genoeg, mooi
of goed genoeg nie.!! Begin inpak om te trek. Glo my, die
prentjie lyk dan totaal anders. Met elke trek gee ek 'n
klomp goed weg, en soos ek so baie die naweek vir my
vriendin gesê het: "ek is seker die bokse het kleintjies gekry"
Dis 'n paar dae later en die bokse staan nog oral rond.
My man vertel vanoggend van mense wat hy elke oggend sien en
hy is seker hulle slaap in hul voertuig. My hart het uitgegaan
en dadelik is ek so dankbaar vir alles wat ek besit.
Ons het soveel om voor dankbaar te wees, en selfs al het die
een slaapkamer nie hangkaste, ek nie genoeg gordyne of
pakplek vir alles nie, en sommige meubelstukke al
vervang moes word met nuwes, loop ek vandag in my
gerieflike, ruim huis rond, en voel soos 'n koningin.
Ons is bevoorreg en God se genade is elke dag nuut.
In hierdie gerieflike, minder moderne huis gaan ek vir my
gesin 'n tuiste skep, en mag God se vrede so tasbaar wees dat
selfs ons besoekers daarvan bewus sal wees.
Dankie Vader vir ons huis en alles waarmee U ons seen
elke dag.
JOU HUIS IS WAAR JOU HART IS
No comments:
Post a Comment