Thursday 1 February 2018

Vandag was 'n wonderlike dag


Oppad na my afspraak by 'n Ortopeed vanoggend, het iemand my vreeslik
beledig voor my dogter en oom, en ek vermoed selfs voor sy werkers.  Ek was
baie emosioneel toe ek by die spreekkamer instap en nadat ek myself bekend
gestel het, moes ek eers vir die Ontvangsdame vra waar hulle badkamer is sodat 
ek my emosies onder beheer kon kry.  Sy kon egter sien daars fout want die
trane het oor my wange gestroom, ek kon dit nie keer nie.

Die dr het vrae gevra, en onder andere moes ek vir hom vertel dat ek jare
gelede met Rumatoide Artritis gediagnoseer was, maar het ook bygevoeg dat
ek vir die Rumatoloog duidelik gemaak het dat ek 'n God van wonders dien. 

Die dr het na my x-strale en sonar gekyk wat van my skouers geneem is
en het tot die slotsom gekom dat daar beentjies (in leketaal) is wat skerp
uitstaan (dis blykbaar 'n algemene probleem) en dis wat die vreeslike pyn in
my skouers veroorsaak.  Hy het vir my 'n dubbele dosis kortisoon in elke skouer
gespuit en my gewaarsku dat ek nie vanaand sal slaap nie, omdat dit my
gaan oorstimuleer.  Hoe awesome, nou sit ek hier in die middel van die nag
en ek kan terugdink aan die dag wat verby is, en tot die slotsom kom -
 VANDAG WAS 'N WONDERLIKE DAG

Jy wonder seker nou hoekom ek so sal dink na 'n emosionele ondervinding, 
twee baie seer inspuitings, warmgloede agv die kortisoon, slapeloosheid ens, wat
hierdie dag gekenmerk het?

Daardie Ortopeed het vandag die mooiste woorde geuiter wat ek in 'n
lang tyd gehoor het.  Hy kon GEEN skade as gevolg van Artritis in my
skouers sien nie.  Niks, geen.  Al moes ek deur hierdie pyn gaan om dit
te hoor, was dit alles die moeite werd.  Ek moet oor 'n maand weer gaan vir
inspuitings indien nodig, en as die probleem na drie inspuitings nie opgeklaar
het nie, moet hulle opereer.  Maar ek weet ook dat God alreeds weet wat in die
toekoms is, want Hy is alreeds daar.  Ek glo en vertrou dit sal nie nodig wees nie.

Daarom kyk ek terug na hierdie dag en ek weet God se genade was vir
my genoeg. 

HIERDIE DAG WAS VOORWAAR 'N UITSONDERLIKE WONDERLIKE DAG

THESE BONES WILL SING
HOW GREAT IS OUR GOD