Thursday 1 February 2018

Vandag was 'n wonderlike dag


Oppad na my afspraak by 'n Ortopeed vanoggend, het iemand my vreeslik
beledig voor my dogter en oom, en ek vermoed selfs voor sy werkers.  Ek was
baie emosioneel toe ek by die spreekkamer instap en nadat ek myself bekend
gestel het, moes ek eers vir die Ontvangsdame vra waar hulle badkamer is sodat 
ek my emosies onder beheer kon kry.  Sy kon egter sien daars fout want die
trane het oor my wange gestroom, ek kon dit nie keer nie.

Die dr het vrae gevra, en onder andere moes ek vir hom vertel dat ek jare
gelede met Rumatoide Artritis gediagnoseer was, maar het ook bygevoeg dat
ek vir die Rumatoloog duidelik gemaak het dat ek 'n God van wonders dien. 

Die dr het na my x-strale en sonar gekyk wat van my skouers geneem is
en het tot die slotsom gekom dat daar beentjies (in leketaal) is wat skerp
uitstaan (dis blykbaar 'n algemene probleem) en dis wat die vreeslike pyn in
my skouers veroorsaak.  Hy het vir my 'n dubbele dosis kortisoon in elke skouer
gespuit en my gewaarsku dat ek nie vanaand sal slaap nie, omdat dit my
gaan oorstimuleer.  Hoe awesome, nou sit ek hier in die middel van die nag
en ek kan terugdink aan die dag wat verby is, en tot die slotsom kom -
 VANDAG WAS 'N WONDERLIKE DAG

Jy wonder seker nou hoekom ek so sal dink na 'n emosionele ondervinding, 
twee baie seer inspuitings, warmgloede agv die kortisoon, slapeloosheid ens, wat
hierdie dag gekenmerk het?

Daardie Ortopeed het vandag die mooiste woorde geuiter wat ek in 'n
lang tyd gehoor het.  Hy kon GEEN skade as gevolg van Artritis in my
skouers sien nie.  Niks, geen.  Al moes ek deur hierdie pyn gaan om dit
te hoor, was dit alles die moeite werd.  Ek moet oor 'n maand weer gaan vir
inspuitings indien nodig, en as die probleem na drie inspuitings nie opgeklaar
het nie, moet hulle opereer.  Maar ek weet ook dat God alreeds weet wat in die
toekoms is, want Hy is alreeds daar.  Ek glo en vertrou dit sal nie nodig wees nie.

Daarom kyk ek terug na hierdie dag en ek weet God se genade was vir
my genoeg. 

HIERDIE DAG WAS VOORWAAR 'N UITSONDERLIKE WONDERLIKE DAG

THESE BONES WILL SING
HOW GREAT IS OUR GOD

Thursday 25 January 2018

JY MAG MAAR EERLIK WEES...


Soms, of seker altyd in jou lewe, is dit beter om eerlik met jouself te wees.
Ons word tog geleer dat die waarheid jou vry maak, en dis presies net so.

Ek is bevoorreg om 'n blog van 'n jongmeisie te volg wat besig is
'n kosverslawing en die strik van emosionle etery te oorkom.  En iets wat
my werklik diep getref het, was haar eerlikheid en dat sy nie skroom
om presies te vertel wat sy elke dag voel en ervaar. 
happilyeverhealthyy,wordpress.com

Dit het my baie laat dink aan my eie situasie op die oomblik en die feit
dat ek so lanklaas enige iets op my blog gepost het.   Ek was so 
vasgevang in my omstandighede en die alledaagse dinge van die lewe dat 
ek werklik perspektief verloor het.  Vol verskonings.  My omgewing is nie reg nie.
Daars teveel beweging om my, altyd iemand wat oor my skouer kyk, die 
tannie is te nuuskierig en daardie een.......so kan ek aangaan met die
verskonings.  Maar die feit is....ek het opgegee.  Ek wou nie erken dat
ek deur 'n baie moeilike tyd van pyn en nogmaals pyn gegaan het en nog steeds gaan.  Ek kon vir weke nie my arms oplig nie want my skouers het teveel gepyn.  Die vyand het my alledaagse "challenges" gebruik en my fokus totaal afgehaal van die EEN wat my nog altyd deurgedra het.  My oe was nie meer gevestig op Jesus, die begin en die Voleinder van my geloof nie.  

Ek lees tans 'n boek van Dr Caroline Leaf: Maak 'n kopskuif.
Alhoewel sy 'n Wetenskaplike is is al haar navorsing ook geskoei op God se woord.
Onder andere praat sy oor die keuses wat ons maak in ons gedagtes.  En hoe ons gedagtes die verskil tussen lewe en dood vir ons kan beteken in ons liggame.  Jare gelede was dit juis my negatiewe gedagtes wat veroorsaak het dat ek soms nie kon opstaan nie.  Dit het my liggaam vergiftig en groot skade aan my gebeente gemaak,  Die Woord leer ons dat 'n vrolike hart die genesing bevorder, maar 'n verslae gees die gebeente laat uitdroog.  En dis presies wat met my gebeur het. 

 Elke dag is 'n keuse wat ek moet maak om my gedagtes te beheer
Ons het die keuse wat ons met ons gedagtes bedink.  Die Woord is duidelik dat God ons denke kan vernuwe en dat ons selfs elke gedagte gevange kan neem en dit tot gehoorsaamheid kan bring aan Jesus Christus.

God het voor ons die keuse gegee om LEWE of DOOD te kies
Ek wil vandag opnuut weer LEWE kies.  Maak nie saak hoeveel pyn ek op die oomblik ervaar nie, ek weet verseker dat God gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde is.  

THESE BONES WILL STILL SING
HOW GREAT IS OUR GOD
JEHOVAH RAPHA
GOD OUR HEALER.