Thursday 12 November 2015

JESUS het klaar die prys betaal


Gister ry ek en my jongste dogter wat onlangs haar leerlinglisensie gekry het,
dorp toe en sy parkeer tussen twee voertuie, maar is te naby aan my kant
en ek kan nie uitklim nie.  In haar poging om agteruit te stoot om reg te stop
sodat ek kan uitklim raak ons 4x4 voertuig die kleiner voertuig langs ons en krap dit. \
Eers het ons gedink ons ry oor iets aangesien dit so gevoel het. 

Ek het dat sy begin terugstoot sodat ek kan uitklim en met die vrou van die
ander voertuig kan praat.  Die karwag dink toe ons wil wegry en skryf ons
registrasienommer neer en wys vir die vrou presies wat die skade is toe sy
aangeloop kom. Moet sê het nogal soos 'n skelm gevoel maar ja, dalk sou
ek ook so opgetree het as ek die karwag was.  

Die vrou is toe baie ontsteld en toe ek vir haar sê ons is vreeslik jammer, en die
ergste van alles is ons het nie eers versekering nie, het sy net haar skouers opgetrek
en gesê jammer dis nie haar probleem nie, ons moet maar net betaal want sy gaan
beslis nie.  
Ons het besonderhede uitgeruil en sy wou nie hê my dogter moes verder ry en 
uit die parkering terugstoot nie.  Daar was geen manier waarop ek vrees by my 
dogter sou kweek om nie weer met selfvertroue te bestuur nie, en het die vrou
aanbeveel om dan eerste te ry aangesien Jessica beslis gaan verder bestuur.

Julle wonder seker hoekom ek die storie vir julle vertel,  maar terwyl ek nou
hier op my bed lê en terugdink aan die insident gister,  vestig die Heilige Gees
my aandag op iets wat tog verband kan hou met die storie.

JESUS HET KLAAR DIE PRYS BETAAL

Maak nie saak hoeveel keer ons fouteer nie, die prys is reeds
betaal.  Daars niks wat ons hoef te doen om Sy genade te ontvang
nie, dit IS daar vir ons, ongeag.  Jesus het alles op Hom geneem
by die kruishout van Golgota en ons hoef nie weer te ly nie.  Selfs
al was jy die enigste persoon op die aarde sou God nog steeds Sy
enigste Seun gestuur het om vir jou sonde, jou skuld, jou siekte
vir al jou oortredings te sterf.   Die vyand is soos die karwag en probeer
ons altyd aankla en laat ons voel ons is nie goed genoeg nie.  Dis 
egter 'n leuen want JESUS HET KLAAR DIE PRYS BETAAL.

So my kosbare dogter.  Mam is nie bly oor wat gebeur het nie,
maar ek is wel dankbaar dat God alles ten goede vir ons
sal laat meewerk en dat Hy daardie insident gebruik om my
net weer opnuut te laat besef wat Golgota beteken het.

Dankie Jesus dat die prys betaal is.  U het opgestaan en leef tot
in ewigheid.   

Daars 'n lied wat sê "He could have called ten thousand angels
                                    but He died alone, for YOU and ME."