Tuesday 2 June 2015

Om 'n goeie Samaritaan te wees


Saterdagoggend gaan ek en my man bank toe.  Hulle
het 'n nuwe stelsel waar jy 'n kaartjie by 'n masjien moet kry
met 'n nommer op, en die kassier roep jou volgens daardie nommer.

Terwyl ons sit en wag kom 'n swartvrou in en sonder om 'n
kaartjie te vat kom sit sy langs ons.  Sy het baie sterk na drank
geruik en dit was glad nie aangenaam nie.
Ek het egter besef sy gaan die heeldag daar sit en niemand gaan
haar bedien nie, aangesien sy nie 'n nr het nie.
Ek het toe vir haar verduidelik van die masjien en het aangebied
om haar te gaan help om 'n nr te kry.  

Nadat ons 'n rukkie gesit het het 'n ou swart oom wat reeds by 
die toonbank gestaan het, na my toe gekom en vir my gesê dat
hy gesien het wat ek vir daardie vrou gedoen het, en hy is so dankbaar.
Hyt my 'n goeie Samaritaan van God genoem en die seen van die
Here oor my uitgespreek.  Op sy t-hemp het gestaan,  JESUS IS LORD.

Daars 'n spreekwoord wat sê "Jys miskien die enigste Bybel wat iemand lees".
Ek is so dankbaar dat ek daardie dag nie net vir daardie
dronk vrou nie, maar ook vir die koninkryk iets kon beteken deur
God se liefde op 'n tasbare wyse aan iemand te bewys.

Terwyl ek hier tik besef ek ook net weereens dat ons
nie 'n nommer of 'n wagtyd nodig het om met God in aanraking te kom nie,
nee,  ons kan direk met Hom kommunikeer en die Woord leer
ons dat die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.

Dankie Vader dat ek 'n instrument in U hand was.
Dankie dat die wêreld deur ons optrede sal sien wie U is.
Amen


These bones will sing
HOW GREAT IS OUR GOD